
Title: Spore in die Sand – Die omswerminge van luiperds in die Kalahari
Author: J. du P Bothma
ISBN: 978-1-0370-9501-6
Size: 155mm x 220mm, 180 pages
Volg die spore van die luiperds van die Kalahari
Die essensie van die Kalahari lê ewe veel in wat jy in jou siel voel as wat jy met jou sintuie waarneem, en het tot talle mites en volksverhale aanleiding gegee. Dit is ’n immer veranderende wêreld waarby die plante, diere en mense wat daar voorkom aangepas het, maar dit was nie altyd ’n dorsland van rooi sand nie en het eens groot riviere en mere gehad.
Wetenskaplike navorsing is ’n mosaïek van die werk van verskillende mense en gee opgesomde gegewens sonder om die fyner detail waarop dit berus te verskaf. Hierdie boek weerspieël die gegewens wat ek in 19 jaar tydens verskillende tye van die jaar versamel en in my dagboeke aangeteken het deur die spore van luiperds tree vir tree met spoorsnyers van San herkoms te volg.
Die luiperds van die Kalahari het by ’n dorre omgewing met ’n wisselende reënval, digtheid en verspreiding van prooi aangepas. Daarom is hulle loopgebiede verreweg die grootste van alle luiperds om aan hulle behoeftes te voldoen, maar dit vereis die ruimte wat die Kgalagadi Oorgrenspark aan hulle bied.
Alhoewel hulle die basiese gedrag van alle luiperds vertoon, het elke luiperd in die Kalahari ook eie gedrag en kan nie in spreekwoordelike hokkie geplaas word nie. Hulle kernbehoeftes is voldoende prooi om van te lewe, ruimte om sonder aggressie te bestaan, en geleenthede om ’n nageslag te laat. Volg die spore wat 26 luiperds in 158 nagte gelaat het.
If you are looking for a copy of this book, or you want to email the author, please use the link below:


